Ek koester my kleintyd herinneringe en onthou graag die kere toe my ma my gestuur het om met onbeholpe vingertjies pietersielie en basilie kruid te gaan pluk vir die slaai. Vanjaar is dit al 10 jaar terug toe my grootmens-hart die eerste keer geroer is deur kruie, -laventel spesifiek! Ek kon van daardie dag nie ophou droom van `n laventel en roosmaryn land voor my plaashuis nie.
Na `n tydperk van navorsing, van wag, aankoop van plantmateriaal, van wag, `n besoek aan Frankryk, van wag,
`n skoonma wat my droom haar droom gemaak het, van wag, het dit wat eers net gedagtes was `n werklikheid geword.
In Januarie 2007 was ons laventel en roosmaryn gereed vir oes. Die plantmateriaal is geoes en so is ons eerste essensiële
olie gedistilleer!
Ons het toe in samewerking met `n laboratorium in Johannesburg `n lyfsorg-reeks ontwikkel wat hoofsaaklik verryk is met
ons organiese, landelik-gedistilleerde essensiële olies.
Saam met ons lyfsorg-reeks doen ons ook verskeie ander kruieprodukte vir die kombuis soos:
1. Gemengde kruie
2. Kruiesakkies
3. Kerse
Hierdie produkte vervaardig ons self met landelik verboude kruie.
Die volgende stap was, om te dink hoe om ons produkte te bemark.
Weens die eksklusiwiteit van ons olies is besluit om bemarking in Afrikaans te doen.
Die naam van die reeks is dan:
Ruah (`n Hebreeuse woord wat beteken – Asem van Lewe, Asem van God, dit wat jy nie met die fisiese oog kan sien nie maar geweldig bewus is van die uitwerking op jou menswees).
Ek is baie lief daarvoor om van Ruah te praat as vrou (eers natuurlik was sy pasgebore, `n piekvoet, toe `n tiener vol dinge en geite). Maar nou kan ek sê dat sy volwaardig vrou is – geplant langs `n stroom van lewende water, haar wortels is diep en sy draai so graag haar gesig na die son! Sy word bederf deur almal se entoesiasme, se ondersteuning, se heerlike glimlagte. Sy put haar inspirasie uit die tyd en plek waar sy is!
Ons wekroep: “koester jouself” is Ruah se kreet vir elke vrou, elke vriendin, elke ma, elke dogter! Ons kan tog te vinnig opgeslurp raak in die alledaagse gejaag na wind. Hier wil ons met elke woord wat jy raak lees op ons produkte vir jou weer rus-gee, vrede-gee, tyd-gee! Ruah glo dat Gees-geïnspireerde woorde die krag het om gedagtes te verander en gedagtes verander dade!
|